Die Verenigde Diensgroep vir Diens en Getuienis van die NG kerkfamilie stel graag die reeks vir 2014: “Noodroepe om ‘n menslike lewe” beskikbaar, in samewerking met verskillende rolspelers.
Prof Nico Koopman, dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch het die teks geskryf. Kollegas Andrew Esterhuizen, Tiana Bosman, Simon Cezula en Nelis van Rensburg het in verskillende stadiums van die reeks se ontwikkeling bygestaan en saamgewerk. Bybel-Media het die vertaling van die stof in Engels behartig en dit persklaar gemaak.
Die 2014 reeks word weer soos gewoonlik via die kanale van Bybel-Media, CLF, die onderskeie sinodes en verskillende sinodale bedieninge versprei.
Die leierskap van die NG Kerkfamilie gaan ons tans voor om saam te fokus op ‘n seisoen van menswaardigheid. Ons dink en soek en bid doelgerig saam om ‘n lewe van ware menslikheid, omdat dít God se goeie wil is vir ons almal. Die 2014 Pinksterreeks wil ons spesifiek help om op hierdie ware menslike lewe te fokus en om saam by die Heilige Gees te pleit dat dit inderdaad oral onder ons en in die wye wêreld waar sal word. Die reeks belig 11 aspekte van ons gebede om ‘n menslike lewe:
- ‘n Noodkreet om te behoort
- ‘n Noodkreet om vreemde vaderlikheid, moederlikheid en ouerlikheid
- ’n Noodkreet om die Naam wat ons waardig maak
- ’n Noodkreet om die koninkrykslewe
- ’n Noodkreet om die wil wat van die aarde hemel maak
- ’n Noodkreet om brood vir elke dag
- ’n Noodkreet om te leef as vergeefde
- ’n Noodkreet om te leef as vergewende
- ’n Noodkreet om bevryding van die bose
- ’n Noodkreet om mense wie se aandag nie afgelei word nie
- ’n Noodkreet om ’n angsvrye lewe
Kom ons bid vanjaar sonder ophou saam dat “die Gees van Bo af op ons uitgestort word”…dat die woestyn ‘n vrugteboord sal word, waar reg geskied en reg gedoen word, sodat ons almal vrede en rus en sekerheid sal geniet, sonder sorge (Jes 32:15-18).
Johan Botha, Eddie Orsmond, Donald Gantana, Gideon van der Watt
(namens die VDDG, die nasionaal Verenigde Diensgroep vir Diens en Getuienis van die NG kerkfamilie)
Klik hier om die preke in Word-formaat af te laai
Klik hier om die preke in PDF-formaat af te laai