Insigte vanuit nuwe navorsing oor aktiewe Afrikaanse kerkjeug
Malan Nel en Zander van der Westhuizen (redakteurs)
Hierdie boek is die uitvloeisel van ʼn wonderlike multi-kerklike navorsingsprojek – Kerklike Jeug en Geloof in Suid-Afrika. Tydens die navorsing het uiteindelik byna 300 jongmense (ouderdom 16-35) 481 vrae beantwoord. Die vrae het veral gefokus op profiel (wie is jy?) en persepsie (wat dink jy?).
Die data wat hieruit onttrek is, was deeglik en omvangryk. Die kerk wou ʼn slag weer weet hoe die jeug lyk, en hierdie navorsing het die antwoord gegee.
Die titel van die boek sal waarskynlik genoeg skokgolwe die vertes in stuur. Nadat die eerste woord oor die navorsingsresultate die ore van die publiek bereik het, het dit immers reeds gebeur. Mense was verbaas, néé, ontsteld, dat daar jongmense kan wees wat oorwegend (nie ten volle nie) positief is oor die kerk. Dit was ook al die skrywers se aanvanklike reaksie. Ons het veel meer negatiwiteit verwag. Daarom was ons verbaas, verras (en selfs geskok) oor die groot positiwiteit onder ons jongmense. Daarom het die keuse vir die titel al hoe meer toepaslik begin voel – Skokkend positief.
Beteken dit die kerk kan rustig agteroor sit? Beteken dit ons hoef aan niks aandag te gee nie? Nee! Lees gerus dié boek en jy sal baie hê om oor bekommerd te wees. Dalk maak dit jou wel ook rustiger. Maar daar is baie om van kennis te neem. En baie om te verander. Want uiteindelik wil die kerk ons jongmense beter verstaan en bedien.